Hoofstuk 8 (author M. Shepherd)
"Ek het gedink ons vat gou een vir die pad, dan skuif ons af dorp toe," sê Tommie terwyl hy gemaak-vies die bierskuim van sy vuil T-hemp afvee, wat hy gemors het omdat hy die eerste sluk altyd te vinnig vat. "Soos ek sê, daai poppie in McGinty's...."
Willie is nie oortuig nie. Om die waarheid te sê, ou Dik Frik en sy pêlle lê altyd daar rond, en dit was maar nog altyd 'n effe van 'n hoer-plek. Sure, dis baie nice as jy en jou tjomme een aand lekker uithaak en almal speel saam, maar die meeste van die tyd is dit meer depressing as iets anders.
"Om te sien hoe dieselfde tien ouens aand na aand hulle lone uitsuip in daai hool, dit, my vriend, is eenvoudig nie Kirplegischtan nie."
"Ek hoor jou," sê Tommie. Hy vat nog 'n diep teug aan die groen botteltjie. Hy kyk op sy horlosie. Hy kyk na die af-oor hond. Hy kyk na sy ingroei-toonnael. Dan kyk hy na Willie. "Ek sê jou wat. Kom ons fokof. Ons vat verlof, sommer more al, ek sponsor my oortyd-tjek vir petrolgeld, en ons fokof. Ons pak die cooler, die CD's, die tent en die visstokke, en ons ry tot die Hilux nie meer verder wil nie. How 'bout that?"
Iets in Willie wil sommer vir Tommie 'n oorveeg gee vir hierdie klaarblyklik beenkop-idee. Maar tog, diep binne, voel hy daar's nie juis 'n rede hoekom nie. Hy was lanklaas op verlof, hy was lanklaas uit die dorp uit, van die plaas af, en hy het lanklaas 'n stywe lyn gehad.
"Ja," mompel Willie in die botteltjie in, " how 'bout that?"
0 Comments:
Post a Comment
<< Home