Hoofstuk 13 (Author M. Shepherd)
By die ontvangstoonbank word hulle verras. Dis 'n buitengewoon oulike poppie wat aan diens is, en veral Tommie kan homself nie keer om sy beste Jack Nicholson-gesig op te sit nie. Die hoë wenkbroue, die halfmas ooglede en die wye glimlag - dit lyk of sy mondhoeke enige oomblik om sy ore gaan haak. "Naand, juffrou," grinnik hy. "...en hoe lyk dinge hier? Is daar 'n ou gaatjie vir twee oulike ouens om in te, uhmmm, lê?"
Die poppie, haar naambordjie spel "Tracy" uit, lyk ongeduldig. Indien enigiets, lyk dit of sy eerder met Willie sal wil gesels as die oorvriendelike lummel met die baie tande. "Dis R150 vir die rondawels agter, die kamers is ongelukkig almal uit," sis-mompel sy deur haar tande.
"R150 is nogal styf, maar dis nie al nie. If you act now..." begin Tommie, maar Willie maak hom stil. "Dis reg dame. Aanvaar julle kaarte?" Tracy se oë beweeg na die masjientjie sonder dat haar kop beweeg. Dit beaam die vraag.
Willie bring sy beursie te voorskyn en pluk dit oop. Hy haal sy kredietkaart uit, maar saam met die kaart kom 'n klein, vierkantige blink pakkie wat amper doelgerig op die toonbank voor Tracy val. Vir 'n sekonde, wat soos 'n jaar voel, kyk die drie na die kondoom wat langs die pamflet oor Voëls van Suider Afrika 'n gat in die hout probeer brand.